Homoseksualiteit en die Bybel... Slegte of Goeie Nuus?
*Kopiereg 1994 Universal Fellowship of Metropolitan Community Churches.
Hersien deur Nathan L. Meckley
Oorspronklike gepubliseer as: Homosexuality: What the Bible Does and Does not Say (c)1984.
Is die Bybel... Slegte of Goeie Nuus?
Gay mans en vroue kom menigmaal weens die samelewing se opvattings voor diskriminasie te staan. Ongelukkig word hierdie opvattings dikwels deur die kerk verkondig. Dit is jammer dat die Bybel ook dikwels as 'n wapen gebruik word om gay mense te veroordeel. Dit is belangrik om te onthou dat sulke kwetsende dinge nie 'n refleksie van Christus is nie, nie van hoe God wil hê die kerk moet wees nie, en nie eens is wat die Bybel werklik sê nie. Sulke dinge is die produk van die feilbare en onvolmaakte mense wat hierdie kerke lei.
'n Christen se persoonlike geloof moet eintlik nie op 'n spesifieke kerk of geestelike leier steun nie, maar moet eerder in Jesus Christus gegrond wees. Buiten behalwe die bevooroordeelde leringe van sekere predikante, kan die Skrif soms vir mense wat homoseksueel en ook Christene is, 'n struikelblok wees.
Deurdagte Bybelstudie maak dit duidelik dat die Bybel wel Goeie Nuus vir gay mans en vroue het, en dat dit nie sê wat 'n mens dalk gedink het dit oor homoseksuele mense sê nie!
Verstaan die Bybel op 'n Nuwe Manier...
Ten minste twee belangrike dinge moet in gedagte gehou word wanneer 'n mens die Bybel lees.
'n Mens moet eerstens altyd eers die konteks oorweeg. Om enige teks te kan verstaan (hetsy dit 'n brief, toespraak of selfs die Bybel is), is dit nodig om die agtergrond daarvan te verstaan. Wie doen die praatwerk, met wie word daar gepraat, waarom is dit geskryf, en hoe was die kultuur?
In die Woord se geval, was die kulturele en sosiale konteks waarin die Bybel plaasvind baie anders as ons s'n. Onthou onder meer dat wanneer daar byvoorbeeld in die Bybel staan dat God die mensdom beveel: "Wees vrugbaar, word baie", dit aan Israel gerig is, 'n klein woestyn-volkie wat deur menige vyand omring was. Dit was vir hulle nodig om "baie te word" net om te kan oorleef.
Die Bybel het tweedens as 'n mondelinge tradisie begin en is eers later, oor menige eeue heen, in die antieke tale (hoofsaaklik Hebreeus in die Ou Testament en Grieks in die Nuwe Testament) neergeskryf. Dis is herhaaldelik in die oorspronklike tale oorgeskryf en toe in ander tale vertaal. Dit verg vertolking en persoonlike oordeel om te kan vertaal - soos enigeen wat meer as een taal magtig is, sal verstaan. Oorskrywers en vertalers kan maklik foute begaan, selfs al het hulle die beste voornemens.
Die Hebreeuse Geskrifte...
Sodom, die Skepping en die Wet:
Die Hebreeuse Geskrifte vertel 'n epiese verhaal en strek oor vele boeke en geskrifte. Dít was die Bybel wat Jesus geken en bestudeer het. Vir Christene vorm dit die grondslag vir hul geloofsgeskiedenis. Dit bevat ook party van die gewildste aanhalings wat teen gay mans en vroue gebruik word.
Wat was Sodom se sonde in Genesis 19:1-28?
Hierdie vers uit die Ou Testament word dikwels verkeerdelik as 'Bybelse stawing" gebruik om te sê dat homoseksuele mense God nie behaag nie. Baie mense beweer dat hierdie stede verwoes is omdat die inwoners die "sonde van homoseksualiteit" gepleeg het. Om te sê dat Sodom en Gomorra weens homoseksualiteit verwoes is, is om die Skrif verkeerd te vertolk.
Die profeet Esegiël, in net so 'n geïnspireerde Bybelse boek, vertel ons van wyd verskillende redes waarom Sodom God nie behaag het nie: "Now this was the sin of your sister Sodom: She and her daughters were arrogant, overfed, and unconcerned; they did not help the poor and needy. They were haughty, and did detestable things before me (letterlik, "het afgodediens gepleeg"). Therefore I did away with them as you have seen." (Esegiël 16:49-50, New International version.)
In elke ander verwysing in die Bybel (waarvan daar verskeie is), is die verdoemde "sondes van Sodom" dinge soos hoogmoed en ongasvryheid. Die mense van Sodom het die wet van gasvryheid teenoor vreemdelinge verbreek, iets wat streng in hul kultuur onderhou is. Hoe die uitdrukking "bring these men out to us, that we may know them" (Genesis 19:5) gebruik word, is waar wanvertolking meestal begin. Die Hebreeuse werkwoord 'yadha' ('om te ken') wat hier gebruik word, kom 943 keer in die Hebreeuse Geskrifte voor en dui op slegs tien plekke op geslagsgemeenskap - elke keer in heteroseksuele verband. Maar selfs al het die Sodomiete probeer om die engele op "homoseksuele" wyse aan te val, sou die vers as 'n duidelike veroordeling van verkragting dien (wat sekerlik as 'n uiterste vorm van ongasvryheid gesien kan word). Verkragting, hetsy hetero- of homoseksueel, is onder enige omstandighede sonde.
"God created Adam and Eve not Adam and Steve," is 'n bekende gesegde onder diegene wat gay mense verwerp. Teenstrydig met ander verwysings, word daar hier geglo dat Genesis 1 en 2 homoseksualiteit verwerp juis omdat dit nie hier genoem word nie. Hierdie argument, wat uit swye bestaan, is moeilik om te ondersteun. Eerstens is Eva nie net vir geslagtelike voortplanting geskape nie, maar ook om Adam se maat te wees (Genesis 2:18). Dít onderlê sekerlik die meerderheid liefdesverhoudings, hetsy hetero- of homoseksueel. Die Skeppingsverhale en die vroeë stories wat in Genesis voorkom dien ook ter verduideliking - nie as voorskrif nie. Om hierdie stories as letterlike riglyne op te neem sou tot eienaardige gevolgtrekkings kon lei. Dit sou byvoorbeeld kon impliseer dat broers en susters geskikte eggenote vir mekaar sou wees. Hoe anders sou Adam en Eva se kinders nasate kon voortbring? Om die Woord op so 'n wyse te gebruik, laat moeiliker vrae ontstaan as wat dit kan beantwoord.
Ander Hebreeuse skrifgedeeltes word uitgesoek om te wys dat die Bybel 'n gay leefstyl veroordeel. Twee hiervan word in Levitikus gevind, in Lev. 18:22 en 20:13: "Thou shalt not lie with a man as thou would like with a woman." Enigeen wat hierdie verbodsbepalinge aanhaal, moet die hele hoofstuk of die hele boek van Levitikus ook lees. Levitiese wette vereis dat geen vark, kreef, garnale, oesters of rou vleis geëet mag word nie, dat geen seks gedurende maandstonde mag plaasvind nie, dat beeste van verskillende bloedlyne nie met mekaar gekruis mag word nie - en talle ander sulke wette, insluitend die wet wat bepaal dat alle mense wat egbreuk pleeg, doodgemaak moet word.
Nuwe Testamentiese Verwysings na Homoseksualiteit...
Die Liefdesgebod
Wat is die fundamentele boodskap van die Bybel en die Evangelie volgens Jesus? As Christene glo ons dat die Hebreeuse Geskrifte 'n goddelik geïnspireerde openbaring van God se verbond met Sy uitverkorenes is; dit is ook 'n relevante studie van die Hebreeuse geskiedenis. Dit is bowenal deel van 'n voortdurende verhaal en die belofte van verlossing. Boonop kry ons as Christene ons wet van Christus af en daardie wet is die Liefdesgebod, waarvan die hoeksteen in die tweevoudige gebod lê - om "God lief te hê... en jou naaste soos jouself".
Nóg Jesus, nóg Paulus óf enige van die ander Nuwe Testamentiese skrifgedeeltes impliseer dat Christene die kultiese of etiese wette wat in die Wet van Moses vervat is, moet nakom nie. Paulus se lering was duidelik dat Christene nie meer onder die Ou Wet gebuk gaan nie (Galasiërs 3:23-25); die Ou Wet is deur Christus tot voltooiing gebring (Romeine 10:4) en die vervulling daarvan lê in die liefde (Romeine 13:8-10, Galasiërs 5:14). Jesus het die mens se seksualiteit op 'n ope en nie-dreigende wyse hanteer. Hy het enersyds die huwelik se status bekragtig, maar andersyds ook verklaar dat die huwelik nie almal sal aanstaan nie (Matteus 19:3-12). Daarbenewens bevat die Bybel ook nie één woord uit Jesus se mond waarvolgens Hy homoseksualiteit verdoem nie.
Dit Klink soos Grieks vir My!
Drie Nuwe Testamentiese skrifgedeeltes word dikwels aangehaal om die "sonde van homoseksualiteit" uit te wys. Menige Engelse Bybelvertalings is in omloop en elkeen hiervan gebruik verskillende Engelse woorde om die skrifgedeeltes vanuit die antieke Grieks te vertaal - sommige woorde sal dus afhang van watter vertaling of weergawe gebruik word. Paulus gebruik twee Griekse woorde in twee enerse verse. Hierdie woorde is 'malakos' en 'arsenokoitai', wat in I Korintiers 6:9 en I Timoteus 1:10 gebruik word. Letterlik vertaal, beteken malakos 'sag' en arsenokoitai 'mansbed'.
Nie een van hierdie woorde het in Paulus se tyd die betekenis 'homoseksueel' gehad nie. Ongelukkig verskil Bybelse taalkenners oor wat hierdie woorde eintlik in die konteks van hierdie twee verse, of vir die mense aan wie Paulus geskryf het, beteken het. Daar was destyds baie Griekse woorde vir 'homoseksuele' of seksuele dade met dieselfde geslag, maar Paulus het nie een van dié gekies nie. Op een of ander manier het vertalers verskeie 'homoseksuele' betekenisse aan hierdie twee woorde geheg.
Let op die volgende weergawes van 'n uittreksel uit I Korintiërs 6:9 (I Timoteus 1:10 stem baie hiermee ooreen):
King James: neither fornicators, nor idolaters, nor adulterers, nor effeminate, nor abusers of themselves with mankind,
New International: neither the sexually immoral nor idolaters nor adulterers nor male prostitutes nor homosexual offenders,
Revised Standard: neither the immoral, nor idolaters, nor adulterers, nor sexual perverts,
Jerusalem Bible: people of immoral lives, idolaters, adulterers, catamites, sodomites,
New English: no fornicator or idolater, none who are guilty either of adultery or of homosexual perversion,
Watter weergawe is die naaste aan wat bedoel is indien die oorspronklike woorde nie 'homoseksueel' beteken het nie? Tog vreemd dat sekere predikers gay mense vol selfvertroue veroordeel as die geleerdes en verskillende Bybelvertalings nie eers eens is oor wat sekere woorde eintlik beteken nie!
Romeine 1:26-27 is die derde skrifgedeelte uit die Nuwe Testament wat dikwels aangehaal word: "For this reason God gave them up to dishonorable passions. Their women exchanged natural relations for unnatural, and the men likewise gave up natural relations with women and were consumed with passion for one another, men committing shameless acts with men . . ." (Revised Standard version)
Verdoem hierdie skrifgedeelte in werklikheid mense wat 'natuurlik' of 'gebore' homoseksueel is? Dit sê dat 'n mens jou nie aan seksuele gedrag moet vergryp wat vir jou onnatuurlik is nie. Dit sê spesifiek dat 'n heteroseksuele mens nie moet probeer om homoseksueel te word nie. Dit kan ewe goed verstaan word as dat 'n gay persoon nie moet probeer om heteroseksueel te word nie.
John McNeill, 'n Rooms-Katolieke Bybelkenner, sê dat daar volop bewyse bestaan dat die Bybel se outeurs waarskynlik wat ons 'perversie' sou noem, in gedagte gehad het. Met ander woorde, vergrype aan homoseksuele aktiwiteite deur diegene wat van nature heteroseksueel is. Die outeurs sou egter verwag het dat alle mense van nature heteroseksueel is. Trouens, hulle antieke begrip van 'natuur' op sigself was anders.
Paulus verklaar byvoorbeeld dat lang hare vir mans onnatuurlik is (I Kor. 11:14). Paulus het geglo dat 'natuur' verwagte eienskappe of kulturele norme sou reflekteer, eerder as in 'n moderne geloof in universele wetenskaplike of biologiese 'natuurwette'.
Soos wat Norman Pittenger, 'n Anglikaanse teoloog dit stel: "For a man or woman whose sexual desire and drive is inevitably towards the same gender, acting in homosexual physical expression is in fact a way of glorifying God and opening the self to the working of the divine love in human affairs".
"I know and am persuaded in the Lord Jesus, that nothing is unclean in itself; but it is unclean for any one who thinks it unclean." (Romeine 14:14) Revised Standard version.
Die Bybel is Goeie Nuus!
Deur hierdie waarnemings te maak, probeer ons nie om die Bybel, die geïnspireerde outoriteit daarvan of die belangrike rol wat dit in Christene se lewens speel, te verlaag nie. Ons bevestig juis die teendeel: dat die Bybel baie het om aan ons te sê, maar dat ons moet luister en leer wat dít sê, nie wat iemand anders vir ons vertel dit sê nie - naamlik diegene wat dit vertaal het of diegene wat dit vertolk het.
Mense kan foute maak en doktrines bou wat die Bybel self nie vir ons leer nie, maar wat deur ander aanvaar word. Kan ons regtig glo dat 'n Christus wat liefde verkondig het, liefde geleef het (saam met vroue, vreemdelinge, sondaars en uitgeworpenes), Sy lewe vir ons op die kruis gegee het om God se liefde vir alle mense te wys - kan ons glo dat 'n Christus vol van súlke liefde, wat die mens se behoefte aan liefde en die liggaamlike vervulling daarvan, van hordes homoseksuele mense sou verwag om 'n selibate lewe te lei en só hul natuurlike behoefte aan intimiteit te ontken óf verdoeming in die gesig te staar? Nie die liefdevolle Christus wat ons in die Bybel vind nie!
Jesus het vir ons sondes gesterf, nie vir ons seksualiteit nie. Hy stel ons vry tot 'n nuwe lewe van liefde in God. Nie heteroseksuele liefde óf homoseksuele liefde is opsigself sondig nie. Seksuele dade word sondig wanneer ons die weë van die liefde agterlaat en 'n ander persoon uitbuit of mishandel. Die verhouding tussen twee vroue of twee mans kan net so liefdevol soos 'n verhouding tussen 'n vrou en 'n man wees. Christus het vir beide die homoseksuele mens en heteroseksuele mens gesterf. Gay mans en vroue kan dus vryelik Jesus Christus se verlossings-genade geniet en steeds hul identiteit en die geldige uitdrukking van hul seksualiteit behou.